Monday, September 1, 2014

Geestelike oefeninge: week 2

Welkom by nog `n week se geestelike oefening! Kyk na die onderstaande video-insetsel en dink daaroor na. Hier is `n paar wenke oor hoe jy kan nadink oor die gedeelte. Onthou hoe ons gesels het oor die feit dat elkeen van ons op `n ander manier by God "ingeplug" is?
Die wat God in die natuur ondervind: Kyk mooi hierdie week na die bome waarby jy verbystap. Hoe lyk die stam? Die lote? Dink aan jou verhouding met God. Voel jy gemaklik en tevrede oor die verhouding?
Die wat  God ondervind in doen:Dink na oor die video. Wat kan jy doen om `n verskil te maak in die mense rondom jou?
Die wat God in kreatiwiteit ondervind: teken `n prentjie van `n boom met `n stam en lote. Kyk hoe dik is die stam en die lote wat jy geteken het. Vertel dit iets van hoe sterk jy God se teenwoordigheid in jou lewe voel? teken nog n prentjie van hoe jou boom graag sou wou lyk. Sit die prentjies erens naby en kyk daarna as jy tot God bid elke dag.
As jy God in jou betrokkenheid met mense ondervind: dink oor jou vriende/vriendinne en bid elke dag dat hulle God se liefde en teenwoordigheid in hulle lewens sal ervaar.
As jy God spesiaal in  Bybelstudie ervaar, gaan lees  Joh 15  elke dag en oordink dit. 




Saturday, August 30, 2014


-->
Filmresensie: Noah
Die verhaal van Noag bly ons betower. Dwarsdeur die wêreld vertel verskillende volke die verhaal van `n groot vloed, en hoe die wêreld oor begin het. Natuurlik is ons vertroud met die Bybelse verhaal van Noag(Gen 6-9), asook die babiloniese Gilgamesh-epos, wat baie ooreenkomste met die verhaal van Noag vertoon. Vroeër vanjaar was daar groot opwinding to nog `n babiloniese weergawe van die verhaal gepubliseer is. Die film Noah is deel van `n nuwe Hollywood-projek om Bybelse verhale te verfilm. Darren Aronofsky( wat self erken het dat hy nie gelowig is nie) was `n verrassende keuse as regisseur. Nog bekende sterre soos Russel Crowe(Gladiator, A Beautiful Mind) en Jennifer Connelly(A Beautiful Mind, Requiem for a Dream) is genader om hoofrolle in die film te vertolk. Die film was egter van die begin af kontroversieël, met Christene, Jode en Moslems wat die film verdoem het.
Die probleem met die film is dat Aronofsky sy verbeelding behoorlik gebruik om die verhaal te vertel. Die resultaat is dat ons met `n verhaal eindig wat eintlik min ooreenkomste met die Bybelse verhaal van Noag vertoon. Aronofsky het byvoorbeeld die verhaal van Noag gemeng met die buite-Bybelse boek van Henog,wat vertel van reuse wat die aarde bewoon het (miskien is Aronofsky te hard geoordeel-Genesis 6:1-4 vertel immers kortliks van hierdie reuse,en hy het hierdie gedagte net verder uitgebrei). Verder is daar duidelik agenda met die film: die gedagte van natuurbewaring en die oproep om die aarde te bewaar word later die hooftema van die film-anders as die genade-tema wat ons in die Bybel opmerk. Aronofsky se uitbeelding van God maak mens nogal ongemaklik. God is die starre,straffende God wat geen genade betoon nie, en volgens die film-weergawe is dit `n méns wat die keuse van genade maak, en nié God nie.
Natuurlik is dit maklik om fout te vind met enige film,veral een wat op die Bybel gebaseer is. Die waarde van Noag is dat dit ons aan die gesels kry oor die verhaal-en natuurlik dwing dit ons onwillekeurig terug na die Bybel om weer self weer die verhaal te gaan lees. Ouers kan dit as `n handige hulpmiddel gebruik om weer met hulle kinders oor hierdie treffende verhaal te gesels. Kom gesels gerus saam oor die film op Florandia se Facebook-bladsy.

 
Filmresensie: Philomena
`n Goeie film het `n paar bestanddele nodig: `n deurwinterde regisseur, gesoute akteurs en `n pakkende draaiboek. Die krities bekroonde britse film Philomena het al tekens van `n meesterstuk, maar daar is nog goeie redes om na hierdie meesleurende film te kyk. Ons is tans besig met `n tema Jesus:opbouer of afbreker? En hier fokus ons op Jesus se stryd met die Fariseërs,en veral hoe Hy hulle konsepte van God,geloof en gebed afgebreek het. Philomena sluit sterk by die tema aan. Die film is op `n ware verhaal gebaseer en vertel die verhaal van Philomena Lee(briljant gespeel deur Judi Dench) wat op haar oudag na haar verlore seun gaan soek. Philomena het as jong meisie swanger geraak en `n klooster het haar ingeneem. Dieselfde nonne wat haar moes beskerm,het die buite-egterlike kinders aan ryk Amerikaanse sakemanne verkoop. Philomena se paaie kruis met Martin Sixsmith(gespeel deur Steve Coogan) `n bitter joernalis wat onlangs sy werk as politikus verloor het as gevolg van `n politieke skandaal. Die gelowige Philomena en die bitter ateïs span saam om haar kind te gaan soek-die joernalis het natuurlik bymotiewe-hy wil munt slaan uit die sensasionele storie van Ierse kinders wat deur die kerk verkoop is.
Die verhaal is boeiend en meesleurend. Natuurlik is daar `n paar kinkels in die verhaal en die regissseur Stephen Frears(High Fidelity, The Queen) neem die kyker as`t ware op `n emosionele malemeule. Die interaksie tussen die naiëwe Philomena en die skeptiese Martin ,asook hulle diep gesprekke oor God, Godsdiens en geregtigheid is besonder treffend. Die ontknoping van die verhaal lei tot `n dieper definisie van christenwees wat lank by die kyker spook. Britse films is bekend vir die stadige ritme, diep intrige en skote humor,maar Philomena oortref enige verwagting( die film is vir vir 4 Oscars, 3 Golden Globes en 3 BAFTA-toekennings genomineer). Philomena is tans op DVD beskikbaar. Moet dit nie misloop nie!

Saturday, August 16, 2014

Geestelike oefeninge: week 1

Ons het die afgelope tyd gesels oor Paulus se opdrag aan Timotheus om "Kaal te oefen" (1 Tim 4:7-oorspronklike Grieks). Dit beteken dat ons alles moet afgooi wat ons verhinder om nader aan die Here te kom. Ons begin ons oefenprogram op eenvoudige manier: kliek op die video en luister mooi na jullle eerste oefening. Die oefeninge sal later bietjie meer kompleks raak,maar kom ons begin met die regte gesindheid!