Tuesday, August 11, 2020

GEDAGTE VIR DIE DAG

DINSDAG 11 AUGUSTUS


Die vierde gebod sê dat ons die Sabbatdag heilig moet hou. Ons het ses dae om al die werk te doen wat ons moet en wil, maar op die sewende dag mag ons geen werk doen nie. Die motivering daarvoor is dat God in ses dae die hele wêreld geskep het en op die sewende dag gerus het. God het dus bedoel dat ons op Sondae moet rus.


Ek kan onthou dat ons as kinders op ‘n Sondag letterlik niks mag gedoen het nie: geen skoolwerk, geen speletjies, geen swem as ons op vakansie was nie, absoluut niks. Dit was hoe ons as gesin Sondae deurgebring het. Ons het kerk toe gegaan en dit was dit. Jy sou ook geen winkel oop kry op ‘n Sondag nie, wat nog te sê sportbyeenkomste.


Vandag lyk dit baie anders, ook in ons huis en gesin. Daardie absolute “verbod” word vandag baie selde so rigied toegepas. Ons sou ‘n lang debat daaroor kon voer. Mag ons sport beoefen, behoort die winkels oop te wees, ens, ens. Dit sou egter ‘n sinnelose tipe debat wees, want ons gaan nie almal met mekaar saamstem nie. Hoe gaan ons byvoorbeeld “rus” definieër?


Kom ons vra onsself eerder af wat die waarskynlike bedoeling met hierdie gebod was. Na my mening was die gedagte dat Sondag anders moet lyk as ander dae. Belangriker egter is die gedagte dat God op hierdie dag op ‘n spesiale wyse gedien en aanbid moet word. Deur die jare het Christene dus op hierdie dag eredienste gehou en ons doen dit nog steeds.


Eerder as om ‘n lys te maak van moets en moenies, is die kernvraag vir my: Het ek op hierdie Sondag iets spesiaals gedoen in terme van my verhouding met my God ? Het ek bietjie ekstra tyd gemaak om met Hom te praat en na Hom te luister ?


Ds Gerrie