-->
Filmresensie:
Noah
Die verhaal van Noag bly ons betower.
Dwarsdeur die wêreld vertel verskillende volke die verhaal van `n
groot vloed, en hoe die wêreld oor begin het. Natuurlik is ons
vertroud met die Bybelse verhaal van Noag(Gen 6-9), asook die
babiloniese Gilgamesh-epos, wat baie ooreenkomste met die verhaal van
Noag vertoon. Vroeër vanjaar was daar groot opwinding to nog `n
babiloniese weergawe van die verhaal gepubliseer is. Die film Noah
is deel van `n nuwe Hollywood-projek om Bybelse verhale te verfilm.
Darren Aronofsky( wat self erken het dat hy nie gelowig is nie) was
`n verrassende keuse as regisseur. Nog bekende sterre soos Russel
Crowe(Gladiator, A Beautiful Mind) en Jennifer Connelly(A Beautiful
Mind, Requiem for a Dream) is genader om hoofrolle in die film te
vertolk. Die film was egter van die begin af kontroversieël, met
Christene, Jode en Moslems wat die film verdoem het.
Die probleem met die film is dat
Aronofsky sy verbeelding behoorlik gebruik om die verhaal te vertel.
Die resultaat is dat ons met `n verhaal eindig wat eintlik min
ooreenkomste met die Bybelse verhaal van Noag vertoon. Aronofsky het
byvoorbeeld die verhaal van Noag gemeng met die buite-Bybelse boek
van Henog,wat vertel van reuse wat die aarde bewoon het (miskien is
Aronofsky te hard geoordeel-Genesis 6:1-4 vertel immers kortliks van
hierdie reuse,en hy het hierdie gedagte net verder uitgebrei). Verder
is daar duidelik agenda met die film: die gedagte van natuurbewaring
en die oproep om die aarde te bewaar word later die hooftema van die
film-anders as die genade-tema wat ons in die Bybel opmerk. Aronofsky
se uitbeelding van God maak mens nogal ongemaklik. God is die
starre,straffende God wat geen genade betoon nie, en volgens die
film-weergawe is dit `n méns wat die keuse van genade maak, en nié
God nie.
Natuurlik is dit maklik om fout te vind
met enige film,veral een wat op die Bybel gebaseer is. Die waarde van
Noag is dat dit ons aan die gesels kry oor die verhaal-en natuurlik
dwing dit ons onwillekeurig terug na die Bybel om weer self weer die
verhaal te gaan lees. Ouers kan dit as `n handige hulpmiddel gebruik
om weer met hulle kinders oor hierdie treffende verhaal te gesels.
Kom gesels gerus saam oor die film op Florandia se Facebook-bladsy.